22 April
🎶 In herinnering aan my pa op sy verjaarsdag
Vandag sou my pa sy verjaarsdag gevier het.
Sy naam was Dirk Johannes Odendaal,
maar die wêreld het hom geken as Basie.
Hy’t gelag met oorgawe,
gesing met oortuiging,
en stories vertel soos min ander—
saam met sy broers, in ’n eie wêreld van verbeelding,
soos ‘n teater sonder gordyne,
waar almal welkom was.
Hy was die distrik-koortjieleier in ons kerk.
En as hy kitaar gespeel het, was dit meestal net een liedjie:
“Die donkie is ’n wonderlike ding.”
En dit was.
Ek was sy skaduwee.
’n Laat lammetjie.
Hy was my Pa.
📝 Skadu van Basie – ’n Gedig vir Pa
Ek was sestien
toe sy stem vir ewig stil geword het—
maar lank voor dit,
was ek net sy skaduwee.
Oorals saam,
altyd agter sy voetspoor,
of een tree vooruit,
as ek vir hom wou wys ek’s groot.
Hulle het hom Basie genoem,
maar vir my was hy Pa.
’n Pa met ’n lag wat mense laat omkyk het,
’n stem wat liedere gelei het
en hande wat stories gebou het uit woorde.
Hy het net een kitaarlied geken,
maar dit was genoeg—
want alles wat hy gedoen het,
was met oorgawe.
Hy het grappies vertel wat oor meer as een spoor geloop het,
en ek lag nog steeds daardie dubbellaag-lag.
Dis my taal nou ook.
Hy het my gewys hoe om ’n mens te wees—
in gee,
in lag,
in luister.
En selfs nou,
wanneer ek ’n storie hoor
en die akteurs in my kop begin toneelspeel,
is dit sy stem wat nog klank gee aan die dialoog.
Ek mis hom.
Nie net op sy verjaarsdag nie—
maar op elke gewone dag
wat hy sou kon mooi maak
met net een opmerking
en daardie Basie-glimlag.

#TuesdayPoetry #TheDailyVerdict #WisdomByRiaan
#SkaduVanBasie #AfrikaansePoësie #RiaanMOdendaal
#LiefdeEnHerinnering #DigtersVanDieWeskus #PaEnSeun
#DieDaaglikseBesinning #Hartsgedigte #PoësieMetErns
#BasieSeSeun #VerjaarsdagHerinnering #TuesdayTribute
